Bybetalings In Versekering

 

Wat is ‘n bybetaling?  Dit is die bedrag betaalbaar deur die versekerde ten tye van ‘n eis en word NIE gedek deur die polis nie.  Verskeie bybetalings kan van toepassing wees op ‘n polis.  Dit is dus van kardinale belang om jouself te vergewis van die bybetalingstruktuur van jou polis.  Die volgende bybetalings is hoofsaaklik van toepassing op motorversekering:

a)  Standaard Bybetaling

b)  Addisionele Bybetaling, en

c)  Vrywillige Bybetaling

Standaard Bybetaling

Dit is die basiese bybetaling op die afdeling van die polis waaronder geëis word.  Die eerste bedrag betaalbaar deur die versekerde.  Indien verlies of skade minder is as hierdie bedrag kan daar nie ‘n eis ingestel word onder die polis nie.

Addisionele Bybetaling

Enige addisionele bybetalings moet bygetel word by die standaard bybetaling indien van toepassing.  Byvoorbeeld, waar die polis stipuleer dat ‘n addisionele bedrag betaalbaar is indien die bestuurder onder ouderdom 25 is ten tye van ‘n eis.

Vrywillige Bybetaling

Jy kan jou bybetaling vrywillig verhoog om sodoende ‘n besparing in premie te bekom, maar wees seker dat jy die verhoogde bybetaling kan bekostig sou ‘n eis ontstaan.